Monday, 11 April 2016

Die avontuur begin

7 April 2016

Nog steeds oppad na |Malan toe....

My eerste vlug was van Kaapstad na Du bai.  Ek het langs ‘n vrou gesit wat van Suid-Afrika kom, maar wat met 'n skot getroud is.  Hulle het op die skepe ontmoet, en sy is nou verwagtend met hulle tweede enetjie.  Haar man werk egter in Antibes, waar ek oppad is.  Ons het so lekker gesels.  Hy werk op die skip Ona, hopelik loop ek hom raak...
By Du bai het ek vir my melk gaan koop en my eerste Annique shake gedrink.  Dis hoe ek gaan geld spaar.  Hahaha. 



Die vlug Nice toe was baie lekker.  Ek het nou nie mense langs my gehad wat ek myself mee kon vermaak met hulle stories, maar ek het heel voor gesit, met baie voet spasie, en kon lekker slaap wat ek nie die vorige vlug kon doen nie.  Die uitsig op Nice was ongelooflik mooi, en het ek sommer opgewonde geraak...







By die lughawe het ek my sakke gekry, daar ‘n €11 buskaartjie gekoop (ja, maal met 17 dan is dit wat dit kos in rand…. Dis hoe my brein deesda werk) na Antibes.  Christine het my daar kom haal, en na die Crewhouse geneem.  Ek het gedink ek gaan hierdie avontuur alleen aanoak, maar as dit nie vir haar was die afgelope tyd, weet ek nie wat ek sou gedoen het nie.  Sy was my grootste bron van informasie. Ek is so dankbaar vir haar hier naby my.  Ons het later die dag vir my ‘n selfoon nommer gaan koop €30, en toe kos gaan koop.  Ek het net melk gaan koop, want ek is mos nou nog op die shake…. Hahaha. 



Ons het ook ‘n ou ontmoet wat “first mate” is op ‘n seiljag.  Hy het ons die aand genooi na The Blue Lady.  Ons het die aand daar aangekom, en ekt ‘n glas wyn gekry vir €3,80. Ons het by ‘n tafel gaan sit, bietjie gesels, en toe by hom gaan sit.  Christine het lekker daar gesels, maar wat my aandag meer getrek het was die Italianer. Hy is seker 40 jaar oud, en sy vriend in die 70, maar ek kon nie op hou lag vir sy stories.  Hy was soos daardie ou in die fliek “Life is Beautiful.”  So vol lewe, en vertel 'n grappie deur met sy hele liggam te verduidelik.  Dit was so snaaks.  Hy het vertel dat die area ‘n dieretuin is en die verskillende persoonlikhede jy kan heg aan ‘n dier, bv. die gorilla is ‘n man wat elke keer skree as daar ‘n doel aangeteken word in ‘n wedstryd.  Hy is gewoonlik groot, en nie so slim...... Klink dit dalk vir julle bekend??? hahahaha.  Genade ek het gelag.  


Die volgende dag het ek stadig opgestaan, want ek wou net myself bietjie uitrus.  Ek het toe my nuwe nommer op my CV geplaas, en ook gesoek na vervoer na Malan in Milan.  Hy het ons genooi om saam hom die naweek met sy pelle na ‘n ski-oord te gaan in Cervinia.  Ek en Christine het besluit ons gaan nie die geleentheid verby laat gaan nie, al lei ons honger vir ‘n paer dae, maar gaan, sal ons gaan.  Ek kon toe nie ‘n kaartjie kry direk van Nice nie, en het met Malan gesels. Malan het die voorstel gemaak dat ons daardie selfde dag na hom toe gaan, en ons spring toe in!!! Ons het binne ‘n uur ‘n trein kaartjie gaan koop (waar ‘n baie nors tannie ons gehelp het, en ek het aanvanklik gedink het ons het haar dag net nog suurder gemaak, maar toe ek my shake bottel daar vergeet het, en ek dit by haar gekry het, het sy uit haar maag gelag… made someones day, check), en toe gepak, en op die trein geklim.  Ons het tot by Vintimille of Ventimiglia, Italie gereis. Ons is nog steeds onseker hoekom die spelling verskil, maar ons dink in Frankryk is dit die een, en in Italie die ander een.   Ons het op die trein ‘n ou tannie gekry, seker so in haar 60, met ‘n paer sakke wat bang was sy sou die volgende trein mis.  Ons het haar toe gehelp op die volgende treinstasie.  As sy 5minute later daar aangekom het dan sou die trein gery het. 


Nou is 3 ure verby, en nog net ‘n uur dan is ons in Milan, by Malan. Hahaha

Die groot Koebaai

7 April 2016


Die Saterdagoggend na my “Stew” kursus, opad om saam my sussie en haar man te gaan ontbyt eet, het dit my ewe skielik bygeval dat ek nie my mense weer gaan sien nie.  Ek het snot en trane gehuil in die kar. Ek het nou gedink dit was nou dit, maar nee nee, na ontbyt klim Alna toe saam my in die kar, en het my kom help met admin, toe begin ek net deel hoe ek hulle gaan mis, en toe rol beide van ons se trane.   WAs dit die laaste trane??? O nee, die laaste was die oomblik toe my pa vir my die mees ongelooflikste boodskap gestuur het, oorgenoeg motivering wat ek veraltyd in my hart gaan bêre. 
Na ek en Alna admin gaan doen het, het ons twee vir Thea, my vriendin bietjie bederf vir 'n spa-dag.  Sy trou die 4de Junie 2016 en ek gaan nie daar wees nie, so ek het hierdie dag, vir haar uitgesit. 





Thea het ook die vorige dag verjaar, en het ek besluit... partytjie tyd, en reël ek sommer vir haar 'n verassings partytjie by Trumpet Tree.  Sy het my gevra om haar bridesmaid te wees, en aangesien ek nie hier kan wees nie wil ek dit graag vir haar spesiaal maak.  Ons het daardie aand so lekker gekuier.  Dit was vir my goed gewees om almal weer bymekaar te hê.  Die afgelope tyd het almal hulle eie gang gegaan, maar dit was net weer ‘n aand om op te vang, en hoor hoe gaan dit.

Die volgende dag was my afskeid partytjie by Route44.  Dit was so lekker om almal daar te hê.  Van ou vriendinne, tot familie.  Ons het die hele dag daar gekuier.  Sommiges kon net 5minute kom, ander het van die begin tot die einde gebly.  Dit was so lekker.  Ek het lanklaas 'n geleentheid gehad waar ek al die belangriskte mense op een kol te hê.  Gewoonlik kan ek net 'n paer na my flat nooi, en was daar nie plek vir almal nie. Dit was vir my regtig spesiaal gewees.


Maandag het ek al die admin gedoen en ook vir twee vriedinbnne gekry vir koffie.  Die aand het ek en my sussie alleen lekker gekuier.  Ek het haar bederf met ‘n ou tamatiebredie.  Haar man het dit ook later waardeer…haha.  Die volgende dag het ek net my sertifikate opgetel, my kar wat my pa gaan verkoop, by my tannie afgegee, en toe is ek, my sussie en haar man lughawe toe vir 'n Koebaai, totwedersiens oomblik....









Die aanloop tot ons Koebaai sê....


7 April 2016

Tans sit ek op ‘n trein saam met Christine opad na Malan in Milan.  Dis hier waar ek begin terug dink aan die laaste tydjie in Suid-Afrika.  

2 Weke voor die skool gesluit het, was ek besig om te merk, persoonlike kommentaar te skryf vir elke leerlinge oor die kwartaal wat verby was, my goed te pak om uit te trek uit Marc se huisie waar ek die afgelope 4 maande gebly het, en die vereistes vir my visas reg te kry.  Ek was taamlik gestres, en alles was maar bietjie opmekaar.  Ek het oorweldig gevoel, veral nou dat alles tot 'n einde gekom het.  My gevoelens was deurmekaar, want ek was so opgewonde oor die avontuur wat voorle en dit wat ek voel God op my hart gesit het om te doen, maar terselfde tyd voel ek of ek die skool in die steek laat, en raak ek al hoe meer bewus dat ek al my geliefdes agterlaat.

Die 15de Maart 2016 het die skool vir my ‘n verassings partytjie gehou.  Ek het nog nooit een gehad nie.  Ek het so bederf gevoel, en het net besef hier het ek 'n familie gebou wat ek nooit sal verloor nie.  Daar was terte, en koekies en kase van alle soorte.  Dit was net so spesiaal vir my gewees. Genade ek besef nou hoe mis ek my kollegas.
Daardie aand het ek saam met een van my beste vriendinne wat van Johannesburg gekom het, vining besluit om erens iets te gaan drink.  So lekker gekuier en gesels.  Ons het vir 3 ure, sonder ophou, gesels oor alles.  Hulle troue, hoe goed God is, my vooruitsigte, en weer net hoe geseënd ons is.
Donderdag, die 17de Maart 2016, het ek klaar gemaak by die skool.  Hulle het spesiaal vir my 'n saal periode gereël aan die einde van die dag.  'n Paer kinders het opgestaan en 'n getuienis gegee oor wat ek vir hulle beteken het.  Shjoe, dit het vir my so baie beteken. ek het nie besef die kinders is so lief vir my nie.  Ek mis die klomp nogal erg.  n was weg gestuur deur ‘n saal byeenkoms wat die kinders vir my dankie gesê het.
Die aand, na skool, het ek by my sussie hulle ingetrek met al my goed.  Genade, ek weet hulle moes ook bitter lief vir my wees om my so baie uit te help.  Hulle het net so klein plekkie, maar hulle was bereid om al my goed met ope arms te ontvang, en met 'n glimlag.  Dit kan vir niemand gemaklik wees om so iets te doen, en nog met so mooi hart ook.  Altyd vrolik, altyd met 'n grappie by.  As julle twee dit lees... So baie dankie vir alles. 
Vrydag, 18 Maart 2016, het ek begin met my STCW kursus. Ons het begin met die module: sekuriteit bewustheid.  ‘n Ou wat in Iraq was as ‘n soldaat, en nou sy eie sekuriteits besigheid besit het vir ons klas gegee.  Ek kon nie op hou na hom luister nie.  Hy het vertel van seerowers en die areas waar hulle die seiljagte aanval.  Hy het vertel hoe ons sulke situasies moet handteer (cool, calm and collected).  Die res van die week het ons noodhulp, brandbestryding, persoonlike sekuriteit en persoonlike oorlewings tegnieke aangeleer.  Die brandbestryding was baie prakties,  en die een toets waar ons die suurstofmaskers aangehad het, en die vure moes gaan dood slaan, was nogal erg vir my gewees, maar almal het dit gedoen, en dit het vir ons soos ‘n oorwinning gevoel toe ons daar klaar is.  Daar na het 'n paer van ons by Hudsons gaan eet, en leker saam gekuier.  Ons groep het nogal lekker saam gewerk, en was, buiten die stresvolle, en soms langdradige lesse, vreugdevol saam met die klomp.  Daar was altyd 'n grappie of twee, en almal was daar vir mekaar.  Ek het lanklaas so lekker saam met engelse mense gebond. Hahaha.  Ons het na die laaste dag almal lekker saam in Mitchell's, Waterfront gekuier.  Sien al die foto's hier onder.











Daardie selfde naweek het my ouers afgekom, en was dit die laaste naweek wat ek hulle gesien het voor ek gegaan het.  Ons as gesin het so lekker saam gekuier en ook bietjie die kaarte uitgegooi en ‘n speletjie vir oulaas gespeel.  Die mense die naaste aan my hart, en wat veraltyd net daar gaan wees.  Soos wat ek nou hier sit en tik, besef ek ook, gedurende daardie tyd, was dit vir my erg gewees om baai te sê, maar aan hierdiekant, danksy die tegnologie, is ek nog elke dag met hulle op die foon, en kan ek met hulle my ervaringe deel.
 

Maandag die 28ste Maart 2016 het ek met my “Stewardess” kursus begin.  Alison, ons instrukteer, was 27 jaar in die seiljag industrie.  Dit was so interesant om al haar stories te hoor en al die wysheidede wat sy aan ons oorgedra het.  Sy is glad nie die algemene lektor nie, maar is oop en gemaklik.  Candy was Alison se regterhand, en het ons baie gehelp.  Ons het in die oggende begin met ‘n les, waar sy stories vertel, en belangrike informasie oordra, terwyl ons op die banke sit en kuister.  Die middae het ons prakties gedoen deur cokctails te maak, blomme te rangskik, bote skoon te maak, te stryk, tafel te dek en egte "silver serving" te doen en ook geleer hoe om met die masjien Latte's te maak.  Die beste vir my was die wynkursus, en die kombinering van kos en wyn. Ek was so ingenome met John, ek het skoon sy nommer gevra om hom na ander mense te verwys.  Hy het so baie kennis van wyn, en ek kon nie op hou luister nie. 





 


Peter was die enigste person saam my op die kursus.  Ons het saam in ‘n kamer gebly.  Aanvanklik was ek bietjie skepties oor die saak, maar soos die week verby gegaan het, en ons mekaar beter leer ken het, was dit vir my regtig lekker om saam hom te bly.  Ek het ‘n tipese ou verwag wat gewoonlik dink ‘n meisie moet al die werk doen, maar hy was ongelooflik. Hy het skottelgoed gewas, help skoonmaak, kos gemaak en was net 'n plesier om by te wees.  Ons het die aande saam geoefen, en bietjie saam gekuier, en net so lekker gesels.  Een van die aande wou ek alleen wees, want ek was heeldag was tussen mense, en was ek net vir een of ander rede bietjie geirteerd, egter oor geen rede, maar ek was.  Ek het vir hom gesê om alleen te gaan draf, want ek gaan by ‘n vriendin kuier.  Op die ou ent kon ek nie by die vriendin gaan kuier nie en hy het gesê hy gaan dan saam my kos gaan koop. Ek was eers “ai, tog” maar toe hy saam my gaan kon ek net eerlik wees en vir hom sê ek is bietjie bluh. Hy was so akkomoderend, en het verstaan. Ons het toe begin gesels oor die feit dat as ons op 'n seiljag werk, gaan ons ook so tussen mense wees, en moet 'n mens maar net eerlik wees wanneer sulke tye kom, want dit gaan gebeur.


Na die kursus het ek darem ‘n aand alleen gehad waar ek net kon rustig wees, my sussie hulle was bietjie uit gewees, en kon ek net bietjie reflekteer oor die kursusse daardie 2 weke.  Ek het gedurende daardie tyd ook besef, dis tyd om koebaai te sê....

Friday, 8 April 2016

Al die informasie


15 Maart 2016

Op die 9de Januarie, pas terug van my ouers in Groot Brak, het ek vir die vriendin gaan kuier wat haar storie vir my in Desember vakansie vertel het.  Ek het vir haar verduidelik dat ek ernstig is oor Frankryk en dat ek die geleentheid graag wil aangryp. Sy het my die volgende informasie op daardie dag gegee.

VROEE STAPPE:

Doen 'n Stewardess kursus, as ook ander kursusse wat jou sal bevoordeel om werk te kry, bv. naels, masering, make-up of enige ander kursus wat jy glo 'n bydra kan lewer op die seiljagte.

Vir meer informasie wat jy dink hulle soek, gaan op die volgende facebook goepe, en kyk wat hulle vir die werksgeleenthede soek. Hierdie is ook groepe wat jy solank wil deel word vir indien jy vir werk begin aansoek doen.

  • Yacrew.com - Jobs on Yachts
  • Job On Yachts
  • Super Yachts Jobs
  • Crew Jobs (MED)
  • Super & Mega Yacht Jobs
Ook 'n goeie idee om twee maande voor jy gaan jou werk te stop en eerder ervaring op te doen indien jy nog nie in die industrie ervaring het nie.  Dit sluit in om 'n kelnerin te wees by 'n restaurant, te werk by 'n gastehuis en skoonmaak, en ook op skepe te werk.  Die beginners kry baie moeilik werk as hulle nie ervaring het nie.

STAP 1: Kry jou ENG1 mediese sertifikaat.  Dit is so belangrik.  Ons het van 'n paer mense gehoor wat kleurblind is, of 'n diabeet is, en klaar hulle kursusse gedoen het, toe word hulle nie goedgekeur deur die dokter nie.  Dit maak al jou deure toe, en was die kursusse verniet. In Kaapstad kan jy net by die volgende dokter laat wat

Dr G Rosendorff,
Chris Barnard Hospitaal,
1ste vloer
162 Longmarket Straat
Kaapstad,
Tel: 021 424 2003
 

(Ek het bespreek, en gegaan binne die eerste twee weke van skool. Die afspraak vat omtrent 1h30min, hulle doen dit net in die oggende, en moet dus verlof gevat het. )

STAP 2: Doen die STCW 10 kursus, en bespreek deur SYSA.

(Ek het hulle gegoogle, bespreek, ongeveer R7000 betaal, en gaan dit gedurende Maart vakansie doen, aangesien dit 'n 10 dae aan een kursus is, wat ek nie verlof kan voor vat nie.  Hierdie kursus is 'n veiligheids kursus wat elke Stewardess moet doen.)

STAP 3: Koop vliegtuigkaartjie.  Daar is baie plekke langs die kus van Frankryk, Italie en Spanje wat jy na kan vlieg, maar die een wat ek gekies is, is Niece Frankryk, waar ek dan na Antibes gaan en daar gaan bly. 

STAP 4: Bespreek jou verbly in een van die ''Crew Houses'' in Antibes.  Volgens my vriendin help hulle jou mooi daar, en dis veral beter as jy nuut is. Die jare wat volg kan jy ander akkomodasie boek.

STAP 5: VISUM baie mense wat ek na gesluister het, is die beste opsie om die toerisme visum te vat.  Wanneer jy dan werk kry, word jy afgeteken op jou visum. Die visum is geldig vir 'n jaar, en jy mag net 3maande op die land wees.  So jy het 3 maande om werk te kry, maar dis ook gevaarlik, want as hulle jou vang, word jy terug gestuur, en het jy 'n rekord op jou paspoort. Verwys na die volgende blog vir meer informasie oor die saak:

https://www.onboardonline.com/industry-article-index/features/getting-a-schengen-the-struggle-for-south-african-yacht-crew/

Ek weet die Here is in beheer, kom ek vertel hoekom.  My familie, vriende, en ek self,was baie skepties oor die manier om die visa in die hande te kry.  Ek het al hoe meer begin stres en getwyfel oor die saak.  Die aand van my een vriedin se bachelorette was daar 'n meisie wat van haar vriendin vertel het wat ook op die seiljagte wil gaan werk.  Twee dae na dit, het die meisie se vriendin my gekontak.  Sy het gehoor ek gaan, en wil bietjie hoor hoe ver ek is met al die aansoeke etc.  Sy was op daardie stadium net klaar met haar Stewardess kursus en het my vertel van SOUTH AFRICAN YACHTY's (google dit) wat vir jou 'n eerbare visum kry.  Dit was so bevrydend om te weet dat hulle my kan uithelp.

Wat hulle van my verwag het:
  • Paspoort wat nog nie verval het ongeveer 3 maande nadat jy terug gekom het nie.
  • Paspoort foto: Ore moet wys, wit agtergrond, kleur, geen glimlag, en tande mag nie wys, kleur hemp (nie wit nie).
  • Vliegtuigkaartjie (retoer) waar die vertrek datum en terugkom datum 'n maksimum van 90 dae moet wees (koop eerder 'n paer dae minder).
  • Bankstaat:3 maande met ongeveer R70 000.
  • Toer versekering vir ongeveer €30 000.
  • Akkomodasie: doen al vroeg aansoek vir twee weke by 'n Crew House, veral as jy alleen gaan.Dis 'n lekker plek om mense te leer ken. Ek het geboek in "The Crewhouse" vir €150/week.  As jy 'n werk kry, en uit trek, kry jy egter jou geld terug.
  • Bewys dat jy vir ten minste vir 4 agentskappe in Antibes aansoek gedoen deur na hulle webtuiste te gaan, aansoek doen, en dan 'n persoonlike epos aan hulle stuur (epos kry jy op hulle webtuiste). Jy verduidelik wie jy is, waste posisie jy vir aansoek doen, en dat jy hulle persoonlik vir hulle wil kom sien op die dag wat jy arriveer (voeg die datum by). Kyk na die volgende agentskappe:
                         Hill Robinson
                         Bluewater
                         Y.CREW Antibes
                         Peter Insull's Crew Agency
                         Dovaston Crew
                   Luxury Yacht Group
                   YPI Crew
                 
                   Crew Network
     
    So hoe het ek al die kursusse ervaar...
 

Wednesday, 9 March 2016

My motivering

3 Maart 2016

Net voor die Desembervakansie begin het was ons by my een vriendin se verjaarsdag in Stellenbosch by die staatmaker, Trumpet tree (altyd 'n wenner).  Daar het ek met 'n ander vriendin in kontak gekom wat sopas van die seiljagte afgekom het. Op daardie stadium was my planne nog Australië, maar was ek klaar bietjie verneder, want ek het al vir die res van die wêreld vertel ek gaan, en die planne val net nie in plek nie.

TIP: hou jou planne vir jouself totdat dinge realiseer.  
FILOSOFIE:  Vir die wat nie hou van filosifeer, skip dit. Haha. So kom ek begin... As iemand wat graag die Here se wil, wil volg, het ek altyd gedink om in geloof te staan is om vir almal my planne te vertel.  Dit was 'n groooot les vir my gewees om te besef dat 'n mens vertel jou planne vir die gene wat jou gaan help om nader aan jou doelwitte te kom.  Ek moes ook leer om te onderskei tussen mense wat werklik my gaan help teenoor mense wat ek DINK of GRAAG WIL Hê moet my help om te bereik wat ek moet bereik. So hoe staan 'n mens in geloof ???(vrae jy huidiglik vir jouself terwyl jy hierdie lees).  Ek gaan dit vergelyk met verhoudings.  Aan die begin van 'n verhouding met iemand spesiaals is mens baie verlief, en alles is net maanskyn en rose, en dan kom daar terugslagte.  As dit is dat julle twee persone saam moet wees, sou julle die moeilike tye deurstaan het met toewyding aan mekaar, baie gebed, vertroue op die Here, en dan 'n paer klein tekens wat vir jou sê "This is for the long run." So verlief word liefde.  Ek was verlief op Australië, en ek het in 'n droom wêreld geleef wat dit kon wees, maar soos die moeilike tye gekom het, was ek nie bereid, of lief genoeg vir Australië om dit te deurstaan nie.  Ja, dit kan wees as gevolg van my onvolwassenheid, en ego wat gebreek was, maar indien ek in Australië moet wees, dan sal dit gebeur.  Maar daar was beter planne vir my, want Frankryk het my hart kom steel, en kon ek lief raak en versigtig my wysheid, wat ek geleer het uit Australië, toepas om dit te laat werk. Nou vertrou ek meer as ooit op die Here, want ek weet dis die enigste konstante wat die verhouding gaan maak werk.   Vir Australië was daar teveel ongeduld, en het ek vir almal daarvan vertel. Frankryk het gegroei uit 'n plek binne my hart. Dit het ook in 'n tyd gekom wanneer ek dit die minste verwag het, maar onbewustelik die meeste nodig gehad het. Dis uit hierdie plek waar my geloof begin groei het en so vir meer mense die nuus begin vertel.  Ek het vertroue in Frankryk dat dit werklik gaan gebeur.  "Al het jy geloof soos 'n mostertsaadjie, sal jy berge kan versit." 'n Mostertsaadjie is nie van die begin af 'n berg.... dit groei.

Sjoe, daardie was diep ( "maar as alles diep is, is jy ook vlak"  Fliek: Pad na jou hart, 2014) Hahaha. So, terug by die vriendin.  Sy het my vertel van haar ervaring op die seiljagte in Antibes, Frankryk. Sy het gepraat van hoe wonderlik dit is om in Frankryk te wees.  Die taal, die plek, die kos, en ja, die salaris wat, soos ek dit uitgewerk het, ongeveer TRIPPELD 'n salaris is, van die maandelikse Bruto salaris van 'n permanente onderwyser.  Die volgende vergelykings het binne my gedagtes gemaal.

  ONDERWYSERES IN SUID-AFRIKA vs STEWARDESS OP SEILJAGTE IN FRANKRYK

                                min geld                                                     nogal 'n paer rand 

                         dieselfde elke dag                                             ervaar nuwe dinge 

              groei in my beroep wat nie baie                       maak genoeg geld, kom terug en                                            meer salaris gaan bring                                         begin my eie ding

                  Wag tot iets interesant gebeur                       Vat eienaarskap van my lewe en                                                                                                                             laat dinge gebeur

             Bly in my werk want dit bring genoeg                Vat 'n kans, staan in geloof met God,
       sekuriteit met 'n vaste inkomste en mense om my          en glo die mense wat jy lief het                                           wat vir my lief is                                               is in die Here se hande

KONSTANTES IN BEIDE 
Ek is jonk
Ek het nog nie afhanklikes
Ek is gesond
Ek is 'n bevoorregte vrou om geleenthede te hê in vandag se era
Die geleenthede raak meer beperk soos ek ouer word


Ek was egter weer terug gebring na realiteit toe my vriendin ook eerlik met my was en met my haar uitdagings op die seiljagte deel.  Dit was selfs vir haar (iemand wat ek na opkyk as 'n sterk onafhanklike vrou) soms moeilik. Dit was egter te min negatiewes wat my gedagtes te laat ophou droom....

Ek het tydens Desembervakansie dit aan my ouers begin noem, en bietjie daaroor geredeneer, en mettertyd het hulle my begin motiveer om dit na te jaag.  En so het my proses begin... met vrede, met opwinding, baie nuuskierigheid wat dit alles behels, en terwyl ek wonder of dit 'n moontlikheid is gaan word, word my denke gevul met die volgende gedagtes: "Frankryk is so onrealisties, almal droom daaroor, maar min volg regtig dit na... Kan ek so iets doen? My vriendin kon dit doen, ek weet van ander wat dit gedoen het. Hoekom nie? Ek kort 'n bietjie van 'n avontuur, dit sal definitief een wees." So begin ek myself oorreed om dit te doen.  Ek kontak my vriendin, en vertel haar of sy vry is, ek kort bietjie informasie, want lyk my Frankryk is besig om realiteit vir my te word.

Wednesday, 24 February 2016

Die groot besluit...

18 Februarie 2016

My eerste woorde wat ek op hierdie blog plaas is tydens 'n af periode in my klaskamer.  Ek kon dalk bietjie merk, of beplan, of administrasie doen, want daar is altyd werk vir 'n onderwyser om te doen, maar my opwinding het die afgelope week so oorweldigend geraak vir my tyd wat voorlê dat enige vorm van rationele denke vervang word met drome. Voor die week was ek nog so onseker, want ek het 'n ongelooflike ou ontmoet, en hom die afgelope maand leer ken.  Ek het die vooruitsig van Frankryk meer gesien as 'n terugslag, as 'n seëning.  Alles het mooi geloop tussen my en hom, en alles was net goed, maar op die ou einde het ons saam besluit dit gaan beter wees om eerder die "Pause Button" te druk, en op 'n goeie noot, vir eers, mekaar die spasie te gun om elkeen se lewe ten volle te lewe. Soos julle sien, het selfs die beste ding wat met my kan gebeur, nie genoeg sekerheid gebring dat ek die Franse avontuur kon vermy nie, en daarom het ek geweet, dis net God wat praat.  So hoe het dit alles begin???

Vanaf Augustus 2015, het 'n emosionele tyd my getref.  Ek het voltyds my Honeurs in Leerondersteuning gedoen in Stellenbosch vanaf Januarie 2015.  Ek het besluit om in Stellenbosch te bly, aangesien my klasse in die aande was.  Wat julle ook moet verstaan, is dat ek 100km elke dag moes ry in Pinelands toe, en terug, aangesien ek ook as 'n wiskunde en lewenswetenskappe onderwyseres in hierdie area gewerk het. Ek glo van die begin van die jaar het hierdie situasie veroorsaak dat daar baie stres in my opbou.  Met dit het ek ook nog verhoudings seergemaak, as gevolg van my afwesigheid, en ja, ook my onvolwasse manier om met die mense die naaste aan my gedurende hierdie tyd mee te kommunikeer en interaksie te hê. So, ja, ek sal nooit dit direk vir daardie mense kan sê, want ek glo dit kan dalk meer skade doen, en hulle lewens omver gooi, maar weet ek is jammer, en ek gun vir julle uit die diepste van my hart net die beste.  Dis tydens hierdie seerkry, en selfs siek wees as gevolg van Griep, toe ek besef het, ek is niks, ek weet nie hoe om goed te handteer.... En weet julle wat, dis die beste plek waar God jou kan vind, want uit hierdie nederige, desperate posisie het ek weer God gesoek, en het Hy vir my net die volgende weer kom herinner: "Wanneer ek swak is, is U sterk" en " Vertrou volkome op My, en moenie op jou eie insigte staat maak nie"  Die Here weet ook soms, want net daardie naweek het my ouers toevalig besluit om af te kom. Ons het 'n heerlike familie naweek gehad, en hulle het soveel wysheid en motivering in my lewe ingespreek dat ek nie anders kon om lekker saam hulle te lag en te kuier en my ou self te vind nie. Dis ook daar wat my ouers met die blink plan opgekom het dat ek bietjie die wêreld moet gaan ontdek voordat ek, na my honeurs, in 'n nuwe posisie as leerondersteuningsonderwyseres intreë. Ek het ook nie 'n man of kinders, of enige ander verantwoordelikhede wat my terug hou nie en daarom is dit die perfekte geleentheid om dit te doen.  Ek het weer hoop gekry...

Aanvanklik het ek gedink, kom ons spring op 'n vliegtuig en gaan na Australië, en bly daar vir 'n jaar of twee.  Dit was 'n ideaal wat ek wou nastreef voordat ek begin werk het.  My pa het ook gedink dit sal goed wees, veral dat die land, as gevolg van sekere gebeure, ek glo tydelik, agteruit beweeg . Dit sluit in die droogtes in die Vrystaat, Zuma se irrationele besluite wat tans ons ekonomie kos, die misdaadsyfer wat daagliks groei, vermindering van geleenthede vir my as 'n witmens, aangesien BEE posisies oorgee aan minder bevoegte persone en die lysie gaan aan. So buiten die wonderlike ervaring wat my motiveer om oorsee te gaan en ook dalk meer te leer oor hoe die skole werk in Australie (dalk leer ek iets wat ek kan terug bring), was dit ook vir my ouers 'n geleentheid om deure oop te maak vir 'n meer gemakliker lewe as in Suid-Afrika. Net "by the way" ek glo Suid- Afrika is 'n wonderlike land, en ek glo ook, jy maak jou eie geleenthede, maak nie saak watse omstandigdhede jy in is. Anyway, deur al die redes het ons die proses begin, en ek het dadelik ingespring en navorsing begin doen.  Ek het kontak gemaak met Australiaanse vriende van my ouers, en het by hulle, asook die internet, inligting gekry oor die geleenthede vir onderwyseres en ook hoe om aansoek te doen vir visums.. Ek het besluit om by 'n immegrasieorganisasie aan te sluit, en verder het hulle my die vereistes vir die visas voorgelê.  Hierdie vereistes was strenger as wat ek gedink het. Die eerste vereiste was om 'n paspoort te besit van 'n land wat geregistreerd is onder die Australiaanse lys  (en nee, 'n Suid-Afrika paspoort is nie een van hulle nie).  As gevolg van hierdie terugslag moes ek Akademiese Engelse toetse gaan skryf, wat ek na die 3de vernedering besluit het, dis 'n teken... Die teken is verder vir my bevestig toe die organisasie ook verduidelik het dat die visas kan tot 15maande vat, en ek wou nie so lank wag nie. Dis ook deur my kollegas en selfs deur die nuwe kontakte wat ek gemaak het, binne Australië, dat dit nie so maanskyn en rose is nie.  So tydens Desember 2015, was dit tyd om nuwe planne te maak.

Oor die vakansie het ek saam my ouers gewig-en-geweeg wat die volgende stappe gaan wees. Soos hulle geweet het is my plan nie om aan te bly by die skool nie, want ek het al Maart 2015 aan hulle die nuus gebreek dat ek graag by die skool wil klaar maak. Hulle was verbaas gewees, veral oor die feit dat ek dit so geniet het waar ek is, en nog 'n permanente pos ook gehad het, maar mettertyd het dit ook aan hulle duidelik geraak dat God my hart druk na iets anders.  Soos ons die opsies uitlê van wat volgende, word ek konstant herinner wat 'n vriendin vroër die jaar vir my vertel het. Dis as gevolg van haar storie wat my hart weer vinniger begin klop het, en het ek besef dis iets wat ek moet ondersoek.