Wednesday, 24 February 2016

Die groot besluit...

18 Februarie 2016

My eerste woorde wat ek op hierdie blog plaas is tydens 'n af periode in my klaskamer.  Ek kon dalk bietjie merk, of beplan, of administrasie doen, want daar is altyd werk vir 'n onderwyser om te doen, maar my opwinding het die afgelope week so oorweldigend geraak vir my tyd wat voorlê dat enige vorm van rationele denke vervang word met drome. Voor die week was ek nog so onseker, want ek het 'n ongelooflike ou ontmoet, en hom die afgelope maand leer ken.  Ek het die vooruitsig van Frankryk meer gesien as 'n terugslag, as 'n seëning.  Alles het mooi geloop tussen my en hom, en alles was net goed, maar op die ou einde het ons saam besluit dit gaan beter wees om eerder die "Pause Button" te druk, en op 'n goeie noot, vir eers, mekaar die spasie te gun om elkeen se lewe ten volle te lewe. Soos julle sien, het selfs die beste ding wat met my kan gebeur, nie genoeg sekerheid gebring dat ek die Franse avontuur kon vermy nie, en daarom het ek geweet, dis net God wat praat.  So hoe het dit alles begin???

Vanaf Augustus 2015, het 'n emosionele tyd my getref.  Ek het voltyds my Honeurs in Leerondersteuning gedoen in Stellenbosch vanaf Januarie 2015.  Ek het besluit om in Stellenbosch te bly, aangesien my klasse in die aande was.  Wat julle ook moet verstaan, is dat ek 100km elke dag moes ry in Pinelands toe, en terug, aangesien ek ook as 'n wiskunde en lewenswetenskappe onderwyseres in hierdie area gewerk het. Ek glo van die begin van die jaar het hierdie situasie veroorsaak dat daar baie stres in my opbou.  Met dit het ek ook nog verhoudings seergemaak, as gevolg van my afwesigheid, en ja, ook my onvolwasse manier om met die mense die naaste aan my gedurende hierdie tyd mee te kommunikeer en interaksie te hê. So, ja, ek sal nooit dit direk vir daardie mense kan sê, want ek glo dit kan dalk meer skade doen, en hulle lewens omver gooi, maar weet ek is jammer, en ek gun vir julle uit die diepste van my hart net die beste.  Dis tydens hierdie seerkry, en selfs siek wees as gevolg van Griep, toe ek besef het, ek is niks, ek weet nie hoe om goed te handteer.... En weet julle wat, dis die beste plek waar God jou kan vind, want uit hierdie nederige, desperate posisie het ek weer God gesoek, en het Hy vir my net die volgende weer kom herinner: "Wanneer ek swak is, is U sterk" en " Vertrou volkome op My, en moenie op jou eie insigte staat maak nie"  Die Here weet ook soms, want net daardie naweek het my ouers toevalig besluit om af te kom. Ons het 'n heerlike familie naweek gehad, en hulle het soveel wysheid en motivering in my lewe ingespreek dat ek nie anders kon om lekker saam hulle te lag en te kuier en my ou self te vind nie. Dis ook daar wat my ouers met die blink plan opgekom het dat ek bietjie die wêreld moet gaan ontdek voordat ek, na my honeurs, in 'n nuwe posisie as leerondersteuningsonderwyseres intreë. Ek het ook nie 'n man of kinders, of enige ander verantwoordelikhede wat my terug hou nie en daarom is dit die perfekte geleentheid om dit te doen.  Ek het weer hoop gekry...

Aanvanklik het ek gedink, kom ons spring op 'n vliegtuig en gaan na Australië, en bly daar vir 'n jaar of twee.  Dit was 'n ideaal wat ek wou nastreef voordat ek begin werk het.  My pa het ook gedink dit sal goed wees, veral dat die land, as gevolg van sekere gebeure, ek glo tydelik, agteruit beweeg . Dit sluit in die droogtes in die Vrystaat, Zuma se irrationele besluite wat tans ons ekonomie kos, die misdaadsyfer wat daagliks groei, vermindering van geleenthede vir my as 'n witmens, aangesien BEE posisies oorgee aan minder bevoegte persone en die lysie gaan aan. So buiten die wonderlike ervaring wat my motiveer om oorsee te gaan en ook dalk meer te leer oor hoe die skole werk in Australie (dalk leer ek iets wat ek kan terug bring), was dit ook vir my ouers 'n geleentheid om deure oop te maak vir 'n meer gemakliker lewe as in Suid-Afrika. Net "by the way" ek glo Suid- Afrika is 'n wonderlike land, en ek glo ook, jy maak jou eie geleenthede, maak nie saak watse omstandigdhede jy in is. Anyway, deur al die redes het ons die proses begin, en ek het dadelik ingespring en navorsing begin doen.  Ek het kontak gemaak met Australiaanse vriende van my ouers, en het by hulle, asook die internet, inligting gekry oor die geleenthede vir onderwyseres en ook hoe om aansoek te doen vir visums.. Ek het besluit om by 'n immegrasieorganisasie aan te sluit, en verder het hulle my die vereistes vir die visas voorgelê.  Hierdie vereistes was strenger as wat ek gedink het. Die eerste vereiste was om 'n paspoort te besit van 'n land wat geregistreerd is onder die Australiaanse lys  (en nee, 'n Suid-Afrika paspoort is nie een van hulle nie).  As gevolg van hierdie terugslag moes ek Akademiese Engelse toetse gaan skryf, wat ek na die 3de vernedering besluit het, dis 'n teken... Die teken is verder vir my bevestig toe die organisasie ook verduidelik het dat die visas kan tot 15maande vat, en ek wou nie so lank wag nie. Dis ook deur my kollegas en selfs deur die nuwe kontakte wat ek gemaak het, binne Australië, dat dit nie so maanskyn en rose is nie.  So tydens Desember 2015, was dit tyd om nuwe planne te maak.

Oor die vakansie het ek saam my ouers gewig-en-geweeg wat die volgende stappe gaan wees. Soos hulle geweet het is my plan nie om aan te bly by die skool nie, want ek het al Maart 2015 aan hulle die nuus gebreek dat ek graag by die skool wil klaar maak. Hulle was verbaas gewees, veral oor die feit dat ek dit so geniet het waar ek is, en nog 'n permanente pos ook gehad het, maar mettertyd het dit ook aan hulle duidelik geraak dat God my hart druk na iets anders.  Soos ons die opsies uitlê van wat volgende, word ek konstant herinner wat 'n vriendin vroër die jaar vir my vertel het. Dis as gevolg van haar storie wat my hart weer vinniger begin klop het, en het ek besef dis iets wat ek moet ondersoek.